Jabes se gebed.

1 Kronieke 4:9-10 Jabes was meer geëerd as sy broers. Sy ma het hom Jabes genoem omdat sy geboorte so pynlik was. Hy was die een wat tot die God van Israel gebid en gesê het: “Laat u seën op my rus en vergroot my grond! Wees asseblief met my in alles wat ek doen, en bewaar my van moeilikheid en pyn!” En God het sy versoek gehoor en dit gedoen.

Psalm 23.


1 ’n Dawidspsalm. Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie.

2 Hy laat my lê in groen weivelde; na water waar rus is, lei Hy my.

3 Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van sy Naam.

4 Wanneer ek loop in ’n baie donker kloof, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my.

5 U berei vir my ’n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ’n eregas deur my kop te salf met olie en my beker oorvol te maak.

6 Waarlik, u goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe; en ek sal bly in die huis van die Here so lank as wat ek lewe. 

Wysheid.

Efesiërs 1:15-19 Die nuus dat julle in die Here Jesus glo en liefde aan al God se mense bewys, maak dat ook ek nie ophou om God vir julle te dank nie. Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort – aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ’n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ’n erfdeel verkry het. Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo.


Vervulling.

Efesiërs 3:14-19 Daarom kniel ek voor die Vader. Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde. Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.

Onse Vader.

Mattheus 6:6 Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon.

7 Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word.

8 Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!

9 Bid dan soos volg: Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word.

10 Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.

11 Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het.

12 En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het.

13 Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose.

Geloof.

Jakobus 1:17-18 Elia was ’n mens net soos ons. Nogtans, toe hy ernstig gebid het dat dit nie moes reën nie, het daar drie jaar en ses maande lank nie ’n druppel op die aarde geval nie! Toe hy vir reën gebid het, het God reën gegee. Die plante het weer gegroei.

Dankbaar.

1 Thessalonisense 5:16-18 Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is.

Uitdagings.

Fillipense 4:6-9 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.

Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is. En leef volgens alles wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees.

Gebed vir ander.

1 Timotheus 2:1-5 Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid met smeking, voorbidding en danksegging. Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies sodat ons in vrede en rustigheid, toewyding en eerbaarheid kan lewe. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, want Hy wil dat almal verlos word en die waarheid verstaan. Want daar is net een God en een Middelaar wat God en mens kan versoen. Hy is die mens Christus Jesus.