PAASFEES GEBEDSTASIES

Begin buite in die tuin by stasie nommer 1. Lees die instruksie en die inhoud van die betrokke stasie. Gebruik dan die element by daardie stasie om so paar minute daar te bid. Beweeg anti-kloks gewys na stasie 2 en 3. Stasie 4 en 5 is binne in die kapel. As jy oorfone wil gebruik is daar ‘n lied gekoppel aan elke stasie.

STASIE 1: DORING TAKKE

Joh 3:16-17 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

 

Paasfees begin by God se liefdesverklaring oor jou en my. Dit is die waarheid oor hoe God regtig oor ons voel. Hierdie paar minute is ‘n dankgebed.

 

Hou aan die dorintakke vas terwyl jy deur elke gedagte van Johannes 3 bid.

‘Hemelse Vader ek wil vandag kom dankie sê dat U my persoonlik lief het. Ek dank U dat dit nie gekoppel is aan my eie goedheid nie, maar dat U liefde vir my terug gaan omdat U my geskep het as U eie kind. U liefde verklaar hoe waardevol ek vir U is. U liefde vir ons is so groot dat U die hoogste prys betaal het sodat ons nie verlore sal gaan nie. U maak dit moontlik dat ons in ‘n verhouding met U kan lewe. Dankie dat U ons nie veroordeel nie. Vader dankie dat U liefde vir ons ‘n kwaliteit van lewe gebring het wat tot in die ewigheid sal wees.’

Luister gerus na ‘Ek is geliefd’: https://www.youtube.com/watch?v=1oEiEWNHIdc

 

STASIE 2: KRUIS EN SPYKERS

Hebreërs 12:1-2 Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

Hebreërs 7:25 Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

 

Dit is verstommend dat Jesus al die pyn en die skande kon verdra! Dit is duidelik dat Hy ‘n beloning gesien het aan die ander kant van die kruis: Daardie beloning was die herstelde verhouding met die mense op aarde. Daardie beloning was die vryheid wat hy gekoop het vir ons. Daardie beloning was dat ons ook nou toegerus kan wees om ons lewe se doel te bereik.

 

Bid nou deur hierdie gebed voor jy een van die spykers in die kruis gaan inkap.

‘Jesus vandag is ek oorweldig deur die prys wat U vir ons vryheid betaal het. Ek ontvang vandag die belofte, dat U my van al my skuld verlos en vry maak. Ek bid dat U vir my die genade kom gee om my oog op U te hou. Ek bid vir my eie toekoms dat ek ook my wedloop goed sal voltooi. Here kom gee my die energie en fokus om die lyding en mense se opinies kant toe te kan skuif. Ek gaan God se doel vir my toekoms bereik. Dankie dat U so groot prys vir my betaal het sodat ek volheid in U kan lewe!’

 

Luister gerus ‘Love has a way’: https://www.youtube.com/watch?v=rn2XDGczRWk

STASIE 3: VISNET

Johannes 21:17 Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Jona, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.”     

 

Petrus verraai Jesus na hy gedink het hy sal dit nooit doen nie. Jesus vat hom, net soos vir my en jou, na die belangrikste vraag toe: Gaan jy my liefde vir jou ontvang en gaan jy my ook jou eerste liefde maak? Jesus kyk verby ons foute en sien ons potensiaal. Kan jy dit ook raaksien?

 

Vat aan die visnet wat Petrus se teleurstelling verteenwoordig en bid hierdie gebed:

‘Here Jesus ek het ook soms storms wat in my binneste woed, storms van hopeloosheid, teleurstelling, skuld, skaamte of seer. Maar U liefde kies my elke keer, al voel ek soms onwaardig. Dankie dat U nie by my foute wil stilstaan nie. Dankie vir die waarde wat U in my sien. Here maak my gemoed vol met U liefde. Here wys my wat is die roeping wat U vir my toekoms het.’

 

Luister gerus na ‘You know me’: https://www.youtube.com/watch?v=TY-B8IyzViQ

STASIE 4: NAGMAAL

Kolossense 2:13-15 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

Die belangrikste woord in hierdie skrifgedeelte is ‘SAAM’. Ons is SAAM met Hom lewend gemaak! Elke deel van ons skuld en elke mag van die bose is oorwin in Jesus se kruisiging en opstanding. Vandag neem ons Sy oorwinning aan as ons eie erfporsie. Dit is die Nuwe Testament wat in Sy bloed verteenwoordig is! 1 Korinthiërs 11:24-25 Nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

Gebruik nagmaal en gaan sit op ‘n bankie terwyl jy na die kruis en die lappe kyk en bid hierdie gebed.

‘Jesus U opstanding uit die dood verklaar vandag my eie oorwinning! Here U heers oor alle omstandighede in my lewe. U gee my die opstanding energie om alles op aarde te oorkom. U bepaal my toekoms en nie my huidige werklikhede nie. Elke ding op aarde wat my lewe uit my wil tap word vandag weer onderwerp aan God se hart vir my. Here U maak my lewend. Here U bepaal my lewe!’

Luister na ‘In victory’: https://www.youtube.com/watch?v=Gd9vCk0YsCE

STASIE 5: BYBEL

Johannes 14:21-27 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle.

 

Vandag, na die kruisiging en opstanding, het ek en jy die Bybel en God se Heilige Gees om ons te lei in al ons besluite.  Soos ons uitstap na al ons verantwoordelikhede, weet ons dat ons nooit alleen is nie.

 

Gaan sit jou hand op die Bybel terwyl jy hierdie gebed bid:

‘Dankie Vader dat U my vul met U Heilige Gees. Heilige Gees, dankie dat U elke dag in my en saam met my is. Heilige Gees, dankie dat U Jesus se Woorde kom lewendig maak in my binneste. Heilige Gees kom lei my in al my besluite. Heilige Gees vul my met die vrede wat Jesus belowe het. Heilige Gees wees U die fontein van lewe binne in my!’

 

Luister na ‘Fontein’: https://www.youtube.com/watch?v=uGryNVw88JA